Radio Eendrag South Africa

Radio Eendrag South Africa
Welkom By Radio Eendrag 'n Radio stasie vir almal, oud en jonk, vir die gesin,vir die familie, vir vriende, vir die volk wereldwyd!!!!!!!!!!!!!!!! Hier kuier ons saam, lag ons saam, deel mekaar se vreugde, huil ons saam en deel mekaar se hartseer en verlange, vier ons saam fees in goeie tye, dans saam,

Saturday, September 13, 2014

Steve Hofmeyr




 
Steve Hofmeyr  new photos.
My opebrief aan Zelda uit Adelaide, Australië.
Zelda, dankie vir jou openhartige skrywe. En nugtere poging tot objektiwiteit. Dit is hoe ek jou ken.Ek sal jou altyd onthou as die persoon wat my gesin aan Madiba voorgestel het en die voorreg daarvan. Jy weet ek sing nog Nkosi Sikelel iAfrika en staan steeds op as dit speel en het geen behoefte om dit te vervang met Die Stem nie. Ek voel steeds aan jou die lewenskragtige optimisme waarvan ek en jy in die vroeë 90's saam deel was. Toe nasiebou vir ons nog wesenlik was. Toe dit nog gelyk het of wedersydse opofferings 'n wen-wen situasie kon oplewer vir die mooiste land met die mooiste mense onder die son. Toe die oorgangsregering 'n goeie kompromie was en ons Madiba gesalueer het vir die belangrike weerligafleier wat hy was toe dit so nodig was. Toe die kim voluit geglinster het, dragtig aan hoop en drome vir elke Suid Afrikaner.
Hoekom is ons so bekend met hierdie liberale kumbaja? Omdat dit so oud is. En omdat dit al so deeglik getoets is. Ons sou een mensdom word, met een taal, een vlag, een volkslied, een strewe en 'n taxi vol welwillende intensies. Intussen het daar twee dekades se water die see ingeloop en elkeen, wit en swart, mag die nasiebouprojek opweeg teenoor sy of haar aanvanklike kompromië en ideale en self besluit of dit alles die pot sous werd was. Terloops, die multikulturele nasieboutoets word tans wereldwyd heroorweeg, omdat die waansin daarvan in retrospek duideliker is en omdat die waan daarvan uiteindelik begin sweer het. Oor hierdie tipe nasiebou word vandag oraloor herbesin.

Ek kan jou nie méér behoudend maak as wat jou persoonlikheid toelaat nie. Maar jy kan my nie meer vul met die grootoog-optimisme van ouds nie. Jy noem in jou ope brief drie "white-hyped" moorde asof iemand gereken het wittes kan nie moor nie. Maar 'n paar geisoleerde, huishoudelike gevalle maak ongelukkig nie die disproporsionele epidemie uit wat my tot aktivisme dryf nie. Die WVK se moordstatistieke wys dat dit wat ons Suid Afrikaners vir ons destydse JA-stem gekry het, daardie ou "misdaad teen die mensdom" soos 'n vervloeë era uit Eden laat lyk. Die 7 000 swart vermoordes in dié tyd (1948 tot 1989!) laat vandag klink na die paradys. Toe volg die 14 000 swart-op-swart moorde ná die ANC ontban is (1990-1994) en vandaar die totale ineenstorting van lewensrespek - en dit op president Nelson Mandela se skof! Dit alles wys my daarop dat my en jou verwagtinge vir "volwassenes" hemelsbreed verskil. Joune is die linkse "ag shame" benadering. Myne die "genoeg is genoeg" afleiding. Êrens tussenin lê daar te veel pap en tyd en bloed op die grond om te maak of die nasiebouprojek geslaagd was of ooit sal wees. Die klassieke linkse moes die wêreld iets kom leer van 'n nuwe menslikheid maar al wat julle ons vandag bied is 'n string voorskrifte van wat die kunste mag en nie mag nie, wat kulture moet en nie moet nie en waar presies die morele en politieke hoëgrond is wat ons dommes so ontwyk. Julle het alles geword waarteen ons gestaan het - oukerkse propagandiste, knersende sensuurrade, met daardie slinkse patologie van uitverkorenheid. Wel, ons is ook nie júlle Boetman nie, Zelda. Elsabe. Leon. Piet. Max.
Meeste van jou ope brief, alhoewel goed bedoel, is hieroor oor my kop: ek is nie dieselfde tipe Afrikaner wat jy is nie. Sê maar, as jy wil, ek het al weer afgestig. Ek is die tipe Afrikaner wat 'n Afrikaner eerste is, en 'n Suid Afrikaner tweede. Daar is nog sulkes en ons word al hoe meer. Ons voel ons toenemend uitgesluit by die Suid Afrikaner-definisie. Jy sal verlig wees om te weet ons betaal nog belasting om julle gemors te subsidieer en daag darem nog op vir Springbokrugbywedstryde. Verder is Suid Afrikaners vir ons daardie nasie met die grootste geneigdheid om sy kinders te vermoor en sy dogters te verkrag, daardie nasie die minste gekwalifiseer om te presteer op enige prestasieindeks, daardie nasie wat met 'n vet glimlag sy moedertaal oorboord gooi, die nasie wat verkiesing na verkiesing die mees onbehepte administrasie aan bewind hou, daardie nasie wat net nie lekker gebou wil word nie. Mens fabriseer so min 'n nasie as wat mens nasietrots bou deur die volkslied herhaaldelik oor die radio te speel.
Ek staan vir ons laaste alternatief voor algehele uitwissing. Daar waar mens verskillende volke wil respekteer deur hulle langs mekaar te 'maak' staan en goeie bure te 'maak' bloot omdat hulle so graag daar wil wees. Ek wil so graag daar wees as dit gebeur.
Maar, helaas, om een klein minderheid kultureel te marginaliseer, haar geskiedenis te herskyf, haar taal te vervang, daardie taal se hoërfunksies te verwoes deur al haar tersiêre inrigtings te kaap, haar erfenis te minag, haar mense teikens te maak van haatspraakliedere soos Umshini Wami of Kill The Boer en haar kinders buite die arbeidsmark te hou op grond van hul velkleur, is nie my ideale koor vir jou Nasieboulied nie. En totdat daar so 'n lied is, sing ek met 'n bors wat bolstaan, Die Stem.
Steve

No comments:

Post a Comment